Wiesbaden

Wiesbaden

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Duitsland Duitsland
 Deelstaat Hesse
 Koördinate 50°05′N 08°15′E / 50.083°N 8.250°O / 50.083; 8.250
 Stigting 829
 Stadstatus 1219
 Oppervlakte:  
 - Totaal 203,09 vk km
 Hoogte bo seevlak 115 m
 Bevolking:  
 - Totaal (30 Junie 2019) 278 456[1]
 - Bevolkingsdigtheid 1 373/vk km
 - Metropolitaanse gebied 560 000
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Burgemeester Gert-Uwe Mende[2] (SPD)
 Amptelike Webwerf wiesbaden.de

Wiesbaden is die hoofstad van die Duitse deelstaat Hesse met 'n bevolking van 278 456 (soos op 30 Junie 2019). Die sowat 20 000 soldate, familielede en nie-militêre personeel van die Amerikaanse Weermag se Europese hoofkwartier, wat hier gesetel is, is hierby nie ingereken nie.

Die metropolitaanse gebied van Wiesbaden sluit die aangrensende Rheingau-Taunus-distrik, die stede Eppstein, Hochheim am Main en Hofheim am Taunus en die dorpe Bischofsheim en Ginsheim-Gustavsburg met altesaam 560 000 inwoners in. Die stad is naas Frankfurt am Main, Mainz, Darmstadt, Offenbach am Main en Hanau een van die kernstede van die Ryn-Maingebied.

Die Hessiese deelstaatparlement (Hessischer Landtag) is in die vroeëre stadskasteel van Wiesbaden gesetel

Die genesende krag van Wiesbaden se warmbaddens is reeds deur die Romeine gewaardeer. Met altesaam vyftien warm- en mineraalbaddens is Wiesbaden een van die oudste badoorde in Europa. Die stad se gesondheids- en spabedryf het veral in die 18de en 19de eeu gefloreer toe badoordvakansies en warmbron-waterkure saam met die vermaakprogram, wat vir badgaste aangebied is, 'n belangrike sosiale gebeurtenis geword het. As een van die vernaamste badplase en kuuroorde op die vasteland, wat deur doeltreffende en ambisieuse stadsbeplanning en die versmelting van stedelike en landskapsargitektuur tot 'n luukse spa van wêreldfaam uitgebou is, het Wiesbaden se lang lys van befaamde badgaste persoonlikhede soos Johann Wolfgang von Goethe, Johannes Brahms en Fjodor Dostojefski asook talle lede van Europa se vernaamste vorstehuise ingesluit.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Wiesbaden, alhoewel ook hier sowat 'n kwart van alle geboue vernietig is, verwoestende lugaanvalle soos dié in Frankfurt am Main en Kassel gespaar gebly. Baie van die stad se historiese boukuns kon dus bewaar word.

Wiesbaden is 'n belangrike spilpunt van Duitsland se spoorwegnetwerk en huisves 'n verskeidenheid nywerhede, waaronder metaalverwerking, sement- en betonvervaardiging, elektroniese bedrywe, masjienbou, vervoertoerusting en voedselverwerking. Media- en kreatiewe bedrywe in die stad sluit drukkerye, uitgewerye en rolprentateljees in. Danksy sy ligging in een van Duitsland se voorste wynboustreke het Wiesbaden self tot 'n sentrum van die wynbedryf ontwikkel en staan onder meer bekend vir sy voortreflike vonkelwyn (Duits: Sekt).

Twee federale instellings is in Wiesbaden gesetel. Die Bundeskriminalamt (BKA) koördineer misdaadbestryding op nasionale vlak in samewerking met soortgelyke agentskappe in die sestien deelstate, beveg en ondersoek misdaad oor internasionale grense heen, beskerm lede van Duitsland se grondwetlike liggame (parlement, federale raad, federale president, federale regering en konstitusionele hof) en tree in sy hoedanigheid as Nasionale Sentraalburo as Duitsland se verteenwoordiger by Interpol op. Die Statistisches Bundesamt is Duitsland se nasionale buro vir statistiek.

  1. Statistik Hessen: Bevölkerung der hessischen Gemeinden am 30.06.2019. Besoek op 10 Oktober 2019[dooie skakel]
  2. Hessenschau Geargiveer 24 Julie 2019 op Wayback Machine 29.06.2019 (de)

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search